Valiant Swart se amptelike webwerf
   
   
::nuus
Boek Valiant Swart stel Trouens en terloops by US Woordfees bekend

Valiant Swart se Trouens en terloops is ‘n outobiografie, vermom as ‘n bundel rubrieke.

Só het Andries Bezuidenhout Saterdag opgemerk toe hy met Swart in gesprek getree het by die bekendstelling van sy boek tydens die US Woordfees. Die lywige bundel bevat 91 rubrieke wat in Baba & Kleuter, Rooi Rose en Rapport verskyn het. Die rubrieke wat Swart vir Rooi Rose geskryf het, handel oor die verhouding tussen mans en vroue, terwyl die Baba & Kleuter-rubrieke sy dogtertjie se manewales beskryf.

“Dis seker nie baie cool vir ‘n rocker om vir Baba & Kleuter te skryf nie, maar dit was great, want nou is drie jaar van my dogtertjie se lewe gedokumenteer,” het Swart gesê. Só vertel hy byvoorbeeld van sy kinders se gunstelingspeelgoed, Kwakkie en Tiertjie, wat deel van die gesin geword het.

“Toe Kwakkie in Prins Albert weggeraak het, het my vrou, met die deursettingsvermoë van die Afrikanervroue wat kaalvoet oor die Drakenberge geloop het, vir Kwakkie gaan soek.” En nadat Tiertjie in Hermanus gesteel is het sy vrou nie gerus totdat sy ‘n soortgelyke sagte speelgoedtier in Nieu-Seeland opgespoor het nie.

Bezuidenhout het opgemerk dat Swart dikwels oor sy rol as pa en die aard van manlikheid – “van macho tot metrosexual” – skryf.

“Ja, ek kan ‘n sagte tipe ou wees, wat hou van digkuns en so aan, maar ek is ook ‘n rocker en die pa wat van spinnekoppe en sulke goed moet ontslae raak.” Swart het die gehoor laat skaterlag met ‘n storie oor sy pogings om die hadidas uit hul tuin te verwilder. Hierdie storie is ook in Trouens en terloops.

Swart se eie kinderdae kom ook in sy rubrieke ter sprake. Hy het byvoorbeeld ‘n rubriek by die bekendstelling voorgelees oor die keer toe hy skelm met oupa se fiets gaan ry het. Kyk die video van sy voorlesing:







Verlede jaar het Toorwoorde roep my, ‘n bundel van Swart se lirieke, wat as digkuns aangebied is, verskyn. Hy erken dat die skuif van lirieke na prosa aanvanklik ‘n bietjie moeilik was toe hy rubrieke begin skryf het. Hy was dikwels laat met die inhandiging van sy rubrieke aan redakteurs en daarom het hy glo eers die titel Jammer vir die wag vir sy bundel rubrieke voorgestel.

Swart het egter gou geleer dat hy oor iets moet skryf waarmee mense kan vereenselwig. “Jy moet definitief nie ‘n lessie of ‘n preek skryf nie.” Volgens Swart hou hy eerder met sy rubrieke ‘n spieël teenoor die Afrikaanssprekende samelewing op.

Noudat hy meer gemaklik met prosa is, oorweeg Swart dit selfs om sy hand aan ‘n roman te waag. “Hopelik sit ons weer oor so twee, drie jaar hier,” het hy aan die gehoor by Protea Boekwinkel gesê, “wanneer ek my debuutroman bekendstel”.


::download online


::die bloublad
Die BlouBlad is weer aan die gang. Kom gesels gerus. Almal moet ongelukkig weer aansluit, maar die proses is baie vinnig en pynloos.








::hosted by
Adept Internet - ISP