Valiant Swart se amptelike webwerf
   
   
::biografie

Valiant Swart het homself geleer kitaar speel toe hy elf jaar oud was. Hy het kort daarna liedjies begin skryf en in sy hoërskooljare in ‘n hele paar bands gespeel, van heavy metal tot boeremusiek! Tydens sy studentejare op Stellenbosch het hy die musiek van Bob Dylan en Jimi Hendrix ontdek, en ook ‘n groot blues-aanhanger geword. In 1988 en ’89 moes hy militêre diensplig doen. In hierdie tyd het hy saam met Koos Kombuis in die rokerige kroeë van Hillbrow begin optree en hom in alle erns as Afrikaanse liedjieskrywer begin bekwaam. In 1990 het hy amptelik begin om ‘n bestaan te voer met sy songs en sy kitaar.

Sedertdien het Valiant landwyd ‘n bekende en gewilde gesig op verhoë en in die media geword.

Van Oppikoppi tot die Staatsteater, by kunstefeeste en in musiekkroeë en –klubs oraloor, het hy oor die jare ‘n reputasie as eersteklas entertainer opgebou. Met sowat drieduisend optredes op sy kerfstok, hetsy solo met kitaar en mondfluitjie in ‘n intieme teateratmosfeer, of op ‘n groot rock-verhoog met sy manjifieke band, is ‘n Valiant-show ‘n belewenis vir enige gehoor. Afgesien van Suid-Afrika, het hy al opgetree in die VSA, Engeland, Holland en Namibië.

Valiant se twaalfde CD, Horisontaal , het onlangs verskyn (gaan na die Diskografie blad vir volledige besonderhede). Sy eerste, Die Mystic Boer, is in 1996 vrygestel. Hy was ook die produksieleier op verskeie albums van ander kunstenaars, en het talle gasoptredes op ander albums gelewer. Van Suid-Afrika se grootste sterre, soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Piet Botha, het al van sy liedjies opgeneem, en baie sangers en bands gebruik Valiant se liedjies in hul verhoog-repertoire.

In 2001 het kykNet hom op ‘n blues-reis Amerika toe gestuur. Die resultaat was die dokumentêre TV-reeks, Veertig dae deur die Delta , waarmee kykers getrakteer is op Valiant se blues-avonture in Tennessee, Mississippi en Louisiana.
Die sukses van hierdie reeks het gelei tot sy akteursdebuut, in die hoofrol as dr Jinx in kykNet se Song vir Katryn trefferreekse. Met rekord-kyksyfers en‘n klankbaan-album wat goue status verwerf het, het “Katryn” van Valiant ‘n huishoudelike naam gemaak.

Sedertdien is Valiant steeds volstoom aan die rock. Afgesien van die opname van sy nuwe album, wat resensente en aanhangers in vervoering het, het hy vanjaar reeds dosyne optredes gelewer, met nog baie wat voorlê. Hy was onder andere op die MK89 Toer saam met van die land se voorste rock bands, op ‘n Horisontaal bekendstellingstoer, by die KKNK, die Volksbladfees, die Cederbergfees, altwee Oppikoppi’s, en ook onlangs in Londen vir vier uiters suksesvolle vertonings.