Oor Merlot, boeremusiek en goeie tye. 2006-09-01
Helloda!
Hier in Vaaleend-land gaan dit woelig en bedrywig, dankie. Met nog ‘n klomp duisend myle, emmers vol rooiwyn (en reën, wat gerus nou maar kan ophou – ek smag al na die somer), en AGT rookvrye maande agter die blad, volg hier weer so ‘n breë verslaggie van die avonture en die planne.
In die eerste plek is ek heel in my skik met die reaksie op Horisontaal. Die terugvoer is baie gunstig – by monde van fans, vriende en vreemdelinge, asook in die media. En die verkope lyk ook mooi – miskien breek ons nog gelyk voor Krismis, he he! Ons launch toer was groot pret, soos verwag. ‘n Hele paar van die nuwe songs het ook nou al standaard status in die live repertoire bereik.
Kort na die toer was ek by die Volksbladfees in Bloemfontein. Ek was ‘n gas in Laurika Rauch se show, saam met oa Coenie de Villiers, Prof Kombuis, Lucas Maree, Denise Jannah, Lise Beekman en Navi Redd. Dit was natuurlik ‘n classy affêre; ek en Coenie het ‘n killer jam gehad op ‘Kinders van die wind’.
Die dag na die show het ek op die lughawe in Johannesburg aangesluit by my bybie en Basson (kitaar) en Alex Fourie (toerbestuurder), vanwaar ons Londen toe vertrek het vir ‘n week. Die vier vertonings daar was hoogs suksesvol. Ons is op die verhoog bygestaan deur twee Afrikaanse ouens wat in Londen woon – Jonnie op baskitaar en Dehan op dromme. Alex het vir hulle ‘n paar mp3’s van my songs ge-email, en toe leer hulle dit sommer so op hul eie. Ons het sonder om saam te oefen op die verhoog geklim en hulle het geROCK. Nou’t ek ‘n rhythm section in Londen! My gunsteling venue was die Aardvark pub in Canada Water, waar ons twee aande gespeel het. Ons het ook die hele week net om die draai van die pub in die eienaar, Stanley Roos, se 5de vloer woonstel op die oewer van die Teems gewoon. Fantastiese uitsigte en heerlike bootvaarte het die week gekenmerk, asook die versengende hitte, met Londen wat in die greep van die warmste somer in Britse heugenis was. Ek het oudergewoonte huiswaarts gekeer met ‘n skatkis vol CD’s: Flying Burrito Brothers, Black Rebel Motorcycle Club, The Raconteurs, Iron & Wine, ens ens, en DVD’s: Jim White – Searching for the wrong eyed Jesus (ek sien onlangs die Bloublad gons oor die een), JJ Cale – To Tulsa and back (die Groot Man op toer verlede jaar, absoluut manjifiek), Elvis – That’s the way it is (die Koning in Las Vegas – ‘n spirituele ervaring), The Evil Dead (vir my laaitie), ens ens. Ek was vier jaar vantevore laas in Londen, en hierdie was loshande my lekkerste besoek sover. Dankie almal!
Nog ‘n wenner op die kalender was, reggeraai, Oppikoppi. Hulle sê mos as jy iets van die fees kan onthou, was jy nie daar nie. Hulle is reg. Ek was daar. As ek reg onthou.
Waar was ek nou weer? O ja, Oppikoppi. Ek het saam met L’Amour gespeel, dit was befok. En, ehm, ja. Ek sweer ek was daar.
Intussen het ek en Ollie Viljoen begin werk maak van ons lank beplande boeremusiek/blues/rock crossover projek. Ons beoog ‘n album en ‘n paar shows, trouens, ons is reeds bespreek vir ‘n optrede by ‘n Europese musiekfees. Ek doen nagteliks navorsing, op soek na sonderlinge wysies en vertolkings (met ‘n stapel boeremusiek CD’s aan my sy), en ek is ook ywerig aan die komponeer. In die Noorde doen Ollie dieselfde; ons eerste show-and-tell is vroeg in September. Ons moet ‘n breë repertoire uitwerk, ‘n band saamstel, ens ens. Ek is vrek opgewonde. Hier kom ‘n ding, hou dop.
En hier onder my huis, in my wynkelder, is 275 liter Merlot besig om te verouder op Franse eikehout. Vroeg November word 300 bottels volgemaak. Dan moet daar nog so drie weke vir die wyn gegee word om oor bottelskok te kom (ek ken daai gevoel baie goed), en teen my 41ste verjaarsdag, op 25 November, behoort ek my eerste Mystic Merlot te kan skink. Sover vorder hy baie mooi. Ek gaan nader aan die tyd ‘n volledige persuitreiking doen – so iets moet mos gevier word!
Nou ja, laat ek nou maar verder gaan boeremusiek luister. Sien julle een van die dae in Hermanus by die Walvisfees!
Tot dan, BALKE TOEEEE!!!
|